Danie Botha

Ek is op 28 Februarie 1947 buite De Doorns gebore en word groot op ‘n plaas ten noorde van Worcester – die agtergrond van baie van my gepubliseerde verhale vir kinders en volwassenes.

In 1966 begin my lewe met boeke in Kaapstad en wel by die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens. Ek neem vanaf 1967 jaarliks verlof om aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer. Met BA Honneurs (Afrikaans/Nederlands) sluit ek as boekeredakteur in 1972 by  Tafelberg-Uitgewers aan. Ná my aftrede is ek steeds betrokke by hulle en ander uitgewerye, nou as vryskut.

Ek is ook toneelkritikus, veral van amateurteater. In my jonger dae het ek ‘n lisensiaat behaal in spraak en drama by die Akademie van Dramakuns en aan vele amateurtoneelproduksies deelgeneem. Vir radiosondergrense en sy voorgangers was ek  skurke en patetiese drommels in hoorspele en vervolgverhale. Daar het ek ook geleer  onderhoude voer, veral met skrywers. Tans verwerk ek kortverhale tot hoorspele en stel ek poësieprogramme vir hulle op.

Naas ‘n kinderboek, ‘n bundel (omstrede!) kortverhale en keurbundels uit skrywers soos P.H. Nortje en Fanus Rautenbach se werk, het ek Voetligte en applous! uitgegee – oor die pioniers van die Afrikaanse beroepstoneel.

Ek glo ek is die Metusalem van Kaapse Dagboek – die mede-aanbieder wat al “die langste” aanhou. Sedert Maart 2002 is dit opwindend om die Afrikaanse kuns en kultuur so sterk as moontlik te bevorder. Ek is trots op my spesialiserende medewerkers: Amanda Botha (skilderkuns), Willem Bester (klassieke musiek) en Niel le Roux (teater).

Op 24 November 2011 het ek ‘n oorkonde ontvang van die ATKV waarmee hulle erkenning gee vir my bydrae tot die teater en tot die boekebedryf as redakteur.