Rina Landman
Rina is op Middelburg Travsvaal gebore – nee, dit was nog voordat dit Mpumalanga geword het. Het daar en in Pretoria skoolgegaan en later haar bibilioteekkwalifikasies deur Unisa behaal. Nadat sy afgetree het as bibiotekaresse, het sy ‘n kursus gevolg om toergids te word, en neem besoekers op staptoere deur die stad. Sy het ook ‘n kursus by die Twee Oseane Akwarium gevolg en werk een keer per week daar as vrywilliger. Op die oomblik probeer Rina genoeg kennis insamel sodat sy as gids by Kirstenbosch kan werk, maar dit gaan maar stadig, want hoe ouer mens word hoe moeiliker word dit om nuwe feite te onthou!
Rina se belangstellings is boeke, boeke, boeke en musiek, ook tuinmaak, stap en alles rondom o ns wat die lewe interessant maak. Haar grootste prestasies is, eerstens, haar vier wonderlike kinders (die vyf kleinkinders is weer hulle prestasies) en, tweedens, die feit dat sy leer motor bestuur het, aangesien sy (volgens haar) ‘n meganiese en tegnologiese idioot is.
Wat musiek betref, het Rina geen kwalifikasies of prestasies wat haar geskik maak om by FMR te werk nie, behalwe ‘n verskriklike liefde vir en belangstelling in musiek. Dit is daarom vir haar so ‘n groot voorreg om deel te wees van FMR tussen al die bekwame en ervare mense.
Een ding wat Rina geleer het, en dit is dat die lewe al hoe meer interessant word as mens eers 60 verbygesteek het.































